Is voedsel aanvullers nodig?

Deur Christo Lues

Uit Manna Sept/Oktober 2008

 

vitamins

Die moderne tye word gekenmerk deur die elektroniese media. Kanse is baie goed dat jy al blootstelling gehad het aan verwarrende media berigte oor voedsel supplemente. Jy het waarskynlik ook al gewonder of dit regtig nodig is om vitamine te neem, want, sê die media baie keer, dis oneffektief en net ʼn geldmaak besigheid.

 

Wat bydra tot die verwarring is dat sogenaamde mediese kenners soms gevaarlike uitlatings maak soos:

· Alles wat ons liggame benodig, kry ons in ʼn gesonde gebalanseerde dieet.

· Daar is nie bewyse dat aanvullers veilig is nie.

· Aanvullers veroorsaak net duur urine.

· Daar is geen bewyse dat vitamine enige terapeutiese effek het nie.

Indien jy dan die kenner in jou lewe daaroor uitvra, wat gewoonlik jou dokter of dieetkundige is, sal hulle sonder om te blik of te bloos dadelik bogenoemde stellings bevestig.

Indien jy egter ʼn gerespekteerde kenner op die gebied van natuurlike medisyne raadpleeg, gewoonlik ʼn naturopaat of kliniese voedingkundige, sal jy ʼn heel ander beeld kry.

As jy die soort uitlatings lees of hoor is jy dan so verward dat jy sommer niemand wil glo nie en ophou om enige supplemente te neem.

 

Wat is die waarheid?

 

In die vorige uitgawe het ek gesê die eerste plek om te begin, is om te verstaan dat as jou liggaam uit gesonde selle bestaan wat goed gevoed is, dit gesonde weefsel sal vorm. Gesonde weefsel sal dan gesonde organe vorm. Gesonde organe vorm dan gesonde sisteme, en wanneer sisteme gesond is en optimaal funksioneer, kom simptome nie voor nie. Die boublokke van ons selle is ondermeer:

 

· 72 spoor minerale wat al ons ensiem prosesse laat werk,

· 26 Vitamine wat ons immuunstelsel, brein en ander funksies laat werk,

· 21 Aminosure wat ons brein, spiere en ander funksies voed,

· 2 Essensiële vetsure (omega 3 & 6)  

· 8 suikers wat die kommunikasie tussen ons selle hanteer

· antioksidante wat ons selle beskerm teen vrye radikale, wat ons uit besoedeling en ander bronne opdoen.

 

Indien ons nie hierdie mikro voedingstowwe op ʼn daaglikse basis inneem nie word ons selle arm aan voeding en kan siektes begin ontstaan. As jy dan die onnatuurlike medisyne roete volg word jy nooit die ontbrekende voedingstowwe aangebied nie, maar eerder giftige chemiese middels, terwyl jou selle skreeu vir kos! ʼn Honger sel kan nooit gevoed word deur ʼn chemiese middel, bestraling of deur dit weg te sny nie.

 

Moderne boerderymetodes en voedsel prosesserings  metodes stroop voedsel van  hierdie uiters belangrike mikro voedingstowwe, en ons liggame kry dit nie meer genoeg mikro voeding deur dieet in nie. Voorbeelde hiervan is kunsmis formules wat meestal net 3 van die 72 belangrike minerale bevat. Wanneer jy 3-2-1 of 2-3-2 op jou gras of blomme strooi, gooi jy ʼn mengsel van Kalium, Stikstof of Fosfor op jou plante (3 minerale), maar jy is kort aan die ander 69 uiters belangrike minerale. Die drie minerale is al wat nodig is om of mooi vrugte te dra, of mooi blare te groei, bv. spinasie, of wortels, beet en uie.

 

Wat sake verder versleg, is, omdat boere nie alles in die grond terug plaas wat nodig is nie, word die plante siek, net soos ons selle. Die boer volg dan dieselfde onnatuurlike chemiese pad om die honger plant te behandel, en spuit giftige middels om die plant siekte vry te maak. Net soos in die liggaam gaan die siekte simptoom vir ʼn kort rukkie weg, maar die middel veroorsaak ook intussen ander probleme.

In die grond waar die plant groei, leef daar miljoene mikro organismes wat deur die middel gedood word. Hierdie is nodig om van die grondstowwe om te skakel vir plant voeding. Dit gebeur dan nie meer nie en die plant word weer siek, waarop meer chemiese middels toegedien word, net soos in ons liggame. Baie van hierdie middels word sistemies deur die plant opgeneem en wanneer ons die plant eet, kry ons oorblyfsels van hierdie chemiese middels in en dit kan weer katastrofiese gevolge in ons liggame tot gevolg hê.

 

Wanneer vrugte of groente aan die plant ryp word, gebeur daar wonderlike dinge. In die laaste paar uur van die ryp word proses stel die pitte van die vrug, phyto-chemikalieë vry in die vrug. Hierdie plant chemikalieë is deels om die vrug te bewaar, en deels vorm dit die bou blokke van ander baie belangrike mikro voedingstowwe wat ek vroeër genoem het naamlik, vitamine, die agt suikers en ook ʼn reeks anti-oksidante.

 

In die moderne wêreld van massa boerdery, ketting winkels, supermarkte en lang raklewe, is dinge egter drasties verskillend van hierdie idilliese voedsame vrugte en groente. Om die tamatie rooi op die supermark rak te kry, word dit groen gepluk, lank voor dit aan die plant kon ryp word. Dus word daardie uiters voedsame plant chemikalieë nooit vrygestel nie, met die gevolg dat die vrug mooi lyk, aanvaarbaar proe, maar weinig van die mikro voeding bevat.

 

Jy mag dalk organiese groente en vrugte by jou bekende hoë kwaliteit voedsel en kleding ketting winkel koop en reken jy is goed gevoed. Organies geproduseerde produkte word gewoonlik nie met giftige middels behandel nie, en dus is jy vry van daardie gifstowwe in jou gebruik van die produk. Alhoewel organies geproduseerde produkte verseker beter is as nie-organiese produkte, eet jy steeds ʼn vrug of groente wat nie aan die plant ryp geword het nie omdat dit ook te vroeg gepluk word. Jou selle trek dus steeds aan die kortste ent wat voeding betref.

 

Dieselfde probleme geld ook ten opsigte van hoender, skaap en bees boerderye

 

Die vraag ontstaan dan, watter supplemente, hoe gereeld en hoeveel behoort ek te neem.

Eerstens is dit belangrik om te besef dat alle voedselaanvullers nie gelyk is nie. Miskien het jy al met mense te doen gehad wat een of ander natuurlike produk aan jou wil verkoop en jou hand mond beloof dat hierdie maak die heel beste in die wêreld is, dat dit deur een of  ander professor of dokter onderskryf word ens.

Alhoewel dit in uitsonderlike gevalle waar mag wees, word mense se persepsies baie beïnvloed deur hoeveel geld hulle daaruit maak. Die feit dat een of ander geleerde of bekende persoon die produk gebruik of onderskryf maak dit nie noodwendig die beste in die wêreld nie.

 

Hoe weet mens of ʼn aanvuller goed of sleg is?

 

Daar is ʼn paar maatstawwe om die kaf van die koring te skei.

1. Die chemiese vorm waarin die aanvuller voorkom. Neem bv. kalsium wat een van die mees algemene aanvullers is. Meeste kalsium aanvullers is in die elementale vorm(soos uit die grond gehaal), wat beteken dit is ʼn klip. Wanneer laas het jy ʼn klip vir aandete gehad? Die mens is eenvoudig nie gemaak om klippe te eet nie. Indien jy die klip baie, baie fyn maal, bly dit steeds klip en is steeds baie moeilik absorbeerbaar vir die liggaam. Die vorm van kalsium is dus nie ʼn goeie keuse nie. Ook moet kalsium altyd saam met ander minerale voorkom om goed deur die liggaam opgeneem te word. Die beste vorm van kalsium is gesuiwerde ioniese koraal kalsium van Okinawa in Japan. Hierdie kalsium kom in ʼn sakkie wat jy in jou filter water gooi en dan deur die dag drink. Dit bevat ook al (72) minerale wat jou liggaam nodig het vir optimale funksie. Hierdie soort kalsium is ook die enigste manier wat effektief die liggaam se pH kan beheer, soos ek in die vorige artikel verduidelik het.

2. So na aan God se skepping as moontlik. Neem ʼn vitamien aanvulling wat so natuurlik as moontlik is. Van die mees bekende vitamien formules word van sintetiese vervaardigde vitamine gemaak. Alhoewel dit steeds effektief is, kan jy beter doen deur te soek vir iets wat van plantaardige materiaal gemaak word.  Dis gewoonlik meer natuurlik en is makliker vir die liggaam om te absorbeer. Probeer altyd om ʼn aanvuller te neem wat so omvattend as moontlik is, dis beter as om tien talle verskillende middels te neem.

3. Hoeveel bottels is nodig? Mense vra my gereeld vir een pil wat als bevat. Dit is om te vra vir een kossoort wat als bevat wat jy nodig het – dit bestaan nie. Sommige vitamine is water oplosbaar terwyl ander vet oplosbaar is. Die twee meng nie in een kapsule nie. Dis nodig dat jou liggaam al die voedingstowwe wat ek bo genoem het daagliks moet inkry om optimale voeding te verseker. Daar is goeie produkte beskikbaar wat die regte soort minerale, plant afgeleide vitamine, suikers en antioksidante bevat. Onder normale omstandighede behoort die volgende voldoende te wees. Multi -Vitamien formule, Koraal Kalsium sakkies vir jou water, ʼn wye spektrum anti-oksidant, Hoë kwaliteit visolie vir omega 3 en ʼn supplement wat die 8 suikers bevat.  Sorg dat jy die beste kwaliteit koop wat jou sak kan bekostig.

4. Oppas vir die gratis ekstras. Wanneer jy volgende keer jou aanvuller koop, kyk vir die ‘onaktiewe’ bestanddele of gewoon die bestanddele lys. Hierdie dui die vullers, bindmiddels, vloeimiddels, kleurmiddels, geurmiddels en preserveermiddels aan. Jou supplement, behoort geen van hierdie te bevat nie. Indien daar nie so ʼn lys op jou bottel verskyn nie, los die maak en soek ʼn vervaardiger met integriteit.  Oppas vir die goedkoop reekse op ketting winkel rakke. Wees veral versigtig vir kinder supplemente wat helder kleure, suiker en ander geurmiddels en preserveermiddels bevat. Dis ook die beste om produkte te koop wat in bruin of blou glas bottels en in kapsule vorm eerder as tablet verpak word. Jou gesondheids winkel kan gewoonlik die beste raad in die geval gee.

5. Hoeveel is daagliks nodig? Baie vitamien vervaardigers wys ʼn 100% RDA waarde. Die “Recommended Daily Allowance” is veronderstel om genoeg vir jou te wees. Hierdie is egter baie ou en soms arbitrêre waardes met min of geen effektiwiteit nie. Indien jou selle baie honger was vir ʼn lang tyd, benodig jy meer aanvulling. Die goue reël is, gebruik soveel as wat vir jou effektief is. Besoek weereens jou gesondheids winkel en vra vir ʼn aanvuller wat tipies baie hoër as RDA waardes bevat.

6. Voedsel aanvullers is wat die naam aandui. Dis nie medisyne nie. Dis eenvoudig substanse wat kortkom in ons dieet, en daarom ontstaan siektes. Om mediese aansprake te maak vir voedsel of voedsel aanvullers is baie misleidend. Omdat dit bloot voedingstowwe in kapsule vorm is maak dit, dit nie ʼn medisyne en dus gevaarlik nie, dis bloot kos vir jou selle.

7. Jy het duur urine nodig. Mense vra gereeld of die aanvullers nie net duur urine produseer nie. Die feit dat as jy water drink en daarna urineer is ʼn normale fisiologiese funksie. Beteken dit dan dat omdat jy water uitskei, jy dit nie behoort in te neem nie? Natuurlik nie! Dit het tog belangrike funksies in jou liggaam voordat dit uitgeskei word. Dieselfde is ook waar vir kos wat jy eet en aanvullers wat jy neem. As die liggaam dit nie kon uitskei nie en dit kon net akkumuleer in die liggaam (soos sommige chemiese middels) sou aanvullers giftig gewees het.

Die beste wat jy kan doen vir jou en jou gesin, is om jou eie kennis oor die onderwerp te verbreed. Kontak my gerus of kyk na die DVD reeks Understanding the Health Puzzle.Op die manier kan jy die beste besluite maak vir jou individuele behoeftes.

© Eirene Health Shop 2014