Deur Christo Lues
Iemand het gesê dat selfvertroue die oomblik is voordat realiteit jou tref! Dit is vir seker waar wanneer mens ʼn nuwe baba het om groot te maak. Vir baie ma’s is dit ʼn skok as hulle tot die volle besef kom dat hul baba volkome afhanklik van hulle is. Sy moet presies weet wat die baba nodig het – en die meeste van die tyd het sy sonder twyfel geen idee wat dit is nie! Dis dan wanneer dit na ʼn goeie opsie lyk om eerder te vlug. . . dis realiteit!
Ek en my vrou het tans agt kinders van ons eie. Ja, een man en een vrou, ek weet dit klink vreemd, maar ons glo regtig die Woord as dit sê dat kinders ʼn seën van die Here is. Hoe dit ook al sy, om die rede het ons amper altyd ʼn baba in die huis, en het ons oor die afgelope seventien jaar baie ondervinding met babas opgedoen. Daarom deel ek graag hierdie kennis met jou, want ek weet hoe jy kan sukkel, en hoe deurmekaar en soms teenstrydig almal se raad aan jou mag klink.
Ek kan met sekerheid sê dat álles wat jy eet ʼn direkte invloed op jou baba het.
Wanneer jy borsvoed, beïnvloed dit wat jy geëet en gedrink het, jou baba se spysvertering, sy gedrag, en sy slaappatroon! Die algemeenste wanopvatting is dat jy enige iets kan eet en dat net kafeïne jou baba negatief kan beïnvloed.
Sekere kosse kan jou baba ongemaklik laat voel en selfs krampe veroorsaak. Die geheim is om so eenvoudig as moontlik kos te maak en om weg te bly van enige kleur- en geurmiddels. Bly maar by gewone wit see-sout of Himalaja-sout (die pienk sout). Soos wat jou baba ouer word (3-4 maande) kan jy meer geurmiddels soos vars kruie uit die tuin of Kikkoman se soja-sous by jou kos begin voeg.
Vermy enige kos wat byvoegsels bevat, veral wors, varkworsies, hoenderwors en boerewors. Bykans alle wors bevat byvoegsels, selfs al is dit natuurlike kruie. Vermy ook spek en enige kos wat in krummels gerol is. Moet ook nie uie, knoffel, broccoli, bone, erte of selfs komkommer eet nie. Bly maar weg van koffie, Cylon-tee, suiker en alle kunsmatige versoeters.
Kosse soos sop-poeier, Aromat en braaivleisspeserye wat MSG of HVP bevat moet vermy word. Vermy alle geurmiddels en preserveermiddels, selfs natuurlike soute soos Herbamare en kerrie poeier.
Die heel maklikste is om by suiwer sout te bly, en ja, ek weet dit kan baie eentonig raak, maar jy as mamma gaan ʼn rustiger baba hê wat makliker gaan slaap, en jý gaan kan slaap. Vermy ook alle produkte wat koring en suiwel bevat. Dit beteken dat jy moet wegbly van meeste ontbyt-grane, pasta, muesli, brood, volgraan en saad-brood, muffins, pro-vita en ander beskuitjies.
Moet ook nie enige jogurt, melk, kaas, room, roomkaas of roomys eet nie. Jy kan wel botter gebruik. Koring, suiwel en suiker is sekerlik die grootste bron van slegte spysverterings-reaksies soos ekseem, krampe, slaaploosheid, loop-neuse, oor- mangel- sinus- en keel-infeksie.
Op die stadium lyk dit sekerlik vir jou of daar niks oor is wat jy wel mag eet nie!
Daar is wel kosse wat veilig is om te eet. Jy moet besef dat jou baba ʼn groot lading op jou liggaam plaas. Om genoeg borsmelk te produseer, is dit belangrik om jou bloedsuiker so stabiel as moontlik te hou. Al hoe jy dit kan regkry is om die korrekte ontbyt te eet. Daarmee bedoel ek kos wat nie te vinnig verteer en dan jou bloedsuiker te vinnig laat styg nie. Moet nie jou dag met vrugte, jogurt, ontbytgraan of iets lig begin nie.
Eet met ontbyt ʼn stysel en diere-proteïen saam. Wanneer jy dit doen, verbrand jou liggaam dit stadig en bly jou bloedsuiker konstant. Eet byvoorbeeld 100% rog- of speltbrood saam met eier (gebak, gekook of geroer), hoender, tuna, salm of enige ander vis. Bly weg van die mayonnaise! Indien jy dieselfde beginsel met elke ete toepas, sal jy voortdurend genoeg energie hê en sal jou bloedsuiker stabiel genoeg bly om jou melkproduksie konstant te hou.
ʼn Uitstekende plaasvervanger vir koringmeel is spelt. Nog nooit daarvan gehoor nie? Spelt is ʼn antieke graan wat nog nie soos koring deur die mens ‘verbeter’ is nie. Jy kan dit by ʼn gesondheidswinkel koop en in jou gewone resepte gebruik om mee te bak.
Ander kosse wat gewoonlik nie krampe veroorsaak nie is skaapvleis, hoender, eiers, geroosterde vis, aartappels, rys, botterskorsie, organiese -appels, -pere, -druiwe, -perskes, -wortels, -sampioene, -skorsies en -patats. Jy kan hierdie met gewone sout en ʼn bietjie botter gaarmaak.
Maak baie seker dat jy absoluut geen kos in die mikrogolfoond ontvries, verhit of gaar maak nie. Gebruik liefs ʼn stomer of die stoof hiervoor. ʼn Mikrogolfoond veroorsaak veranderinge in die mikro-strukture van enige kos of vloeistof en veroorsaak ʼn ongewenste reaksie in jou brose jongeling.
Wanneer dit by vloeistowwe kom, is water al wat oorbly. Dit is nie waar dat te veel water skadelik vir jou liggaam is nie. Dit is die mees lewegewende drankie wat daar op die aarde bestaan! Die mense drink te min water, veral as jy borsvoed het jy baie water nodig.
Wanneer jy borsvoed het jou liggaam baie meer water as normaal nodig. Die water behoort gesuiwer te wees met ʼn KDF en koolstof tipe filter en nie met ʼn distilleerder of tru-osmose sisteem nie. Ek beveel ook vir alle mammas aan om ʼn mineraal supplement soos Concentrace of ioniese koraal-kalsium sakkies in die water te gooi. Dit sal verseker dat jy nie jou belangrike kalsium en ander minerale uit jou dieet verloor nie. Jy kan ook soms tee soos chammomile met fennel-saad drink. Dit het ʼn strelende effek op jou baba en is boonop baie aangenaam.
Raad om te volg wanneer jou baba huilerig is:
Maak seker baba is nie te warm of te koud nie. Babas is gewoonlik meer gemaklik as hulle bietjie warmer as ons volwassenes aangetrek is. Hulle lyfies het amper geen natuurlike hitte nie, en hulle word sommer baie gou koud . . . en kyk of die doek skoon is.
Maak seker baba se magie is vol gedrink. Moet nie baba slegs 5 minute aan die een bors en dan 5 minute aan die ander bors voed nie. Gee vir baba een bors om leeg te drink. Daarna kan hy eenvoudig aan die leë bors suig sonder dat hy oorvoed word. Soos wat baba groter word gaan hy later al twee borste in een voeding leeg drink.
Gee ʼn homopatiese chammomile-poeier – dit help om baba rustig te maak sonder enige newe effekte.
Indien hy steeds huil en sy beentjies optrek en jy dink hy het dalk ʼn krampie, druk ʼn Spascupreel-pilletjie baie fyn. Druk jou vinger in sy mondjie en met die speeksel aan jou vinger, neem van die poeier en plaas dit in sy mondjie.
Indien jy verkeerd geëet het en hy dalk die effek daarvan beleef, druk ʼn Gastricumeel-pilletjie (homopaties) baie fyn. Druk jou vinger in sy mondjie en met die speeksel aan jou vinger, neem van die poeier en plaas dit in sy mondjie.
Indien nie een van die bogenoemde werk nie, is dit moontlik dat baba tydens geboorte ʼn werwel of ʼn gewrig effe ontwrig het. Neem hom na ʼn chiropraktisyn wat ondervinding het om babas hiervoor te behandel.
Indien baba deur middel van ʼn keisersnit gebore is, het hy nie die vriendelike bakterie in die geboortekanaal ingekry om sy spysverterings stelsel aan die gang te sit nie. Hiervoor beveel ek ABC Dophilus van Solgar aan. Gee baba ¼ tot ½ teelepel per dag om die probleem te herstel.
Raad om te volg wanneer baba besig is om tande te kry:
Jy kan begin deur te kyk of die tandvleis rooi is. As baba sy vingers ongeduldig eet en soms gille uiter, is dit om jou te laat weet hoe irriterend dit is.
Probeer wat ek hierbo aanbeveel, maar indien dit nie werk nie, neem ʼn klein bietjie Traumeel S-salf en smeer dit aan die tandvleis.
Indien baba koors ontwikkel, kan jy bogenoemde probeer of vir hom Engystol-pilletjies gee. Druk die pilletjie baie fyn. Druk jou vinger in sy mondjie en met die speeksel aan jou vinger, neem van die poeier en plaas dit in sy mondjie. Hierdie help om die immuun stelsel te stimuleer. Indien dit aanhou kan jy Viburcol -setpille gebruik. Dit is 100% veilig en natuurlik.
Raad om te volg wanneer baba brand-boudjies het:
Hierdie kan as gevolg van tande wees.
Was baba se boudjies liggies met lou warm water na elke vuil doek en droog dit saggies af.
Dis baie belangrik vir jou om aanvullings te neem. Swangerskap, geboorte en borsvoeding neem baie uit jou liggaam en jy behoort ʼn paar supplemente te neem om jou liggaam in ʼn goeie toestand te hou.
Begin met ʼn goeie multivitamien formule, die bestes is beskikbaar in gesondheidswinkels. Ek beveel ʼn multivitamien met hoë vitamien B5 (goed vir die stres) van Viridian aan. Neem een met ontbyt.
Neem Omega 3 Ek beveel dit spesifiek aan omdat dit jou borsmelk uitstekend verryk en jou liggaam van essensiële boublokke vir hormone voorsien.
Neem baie water met minerale in soos ek hierbo verduidelik het.
Om jou melkproduksie te verhoog, vermy tog asseblief die chemiese middel wat so graag aanbeveel word. Probeer eerder die natuurlike kruie soos fenegriek in tee of kapsule vorm. Drink baie skoon water.
Die seerste seer is seker wanneer die nippel kraak, bars of bloei. Baba moet verkieslik aanhou voed aan die bors en mamma moet sterk bly. Smeer ʼn klein bietjie Kamillosan of Lansinoh voor en na elke voeding aan. Dit is belangrik om met die eerste tekens van seer borste, bogenoemde aan te wend. Ons het gevind dat ‘tepel skanse’ uiters effektief is om tepels kans te gee om te herstel tussen voedings. Dit help om die tepels droog te hou en hou klere wat kan skaaf weg.
Indien jou tepels reeds so seer is, dat jy skaars daaraan kan raak, mag dit raadsaam wees om jou melk vir ʼn dag of twee uit te pomp om jou tepels kans te gun om te herstel. Laser behandeling deur ʼn fisioterapeut mag help om die helings proses te versnel. Hierna kan borsvoeding voortgesit word en kan jy voor en na elke voeding ʼn klein bietjie van bogenoemde salf aanwend om jou tepels te beskerm. Hou aan om die ‘tepel skanse’ te gebruik totdat jy 100% herstel het.
Indien jy rekmerke ontwikkel het of ʼn nare wond opgedoen het, is Squaline uiters effektief vir die herstel van die wond en dit help om merke te minimaliseer. Wend ʼn klein bietjie aan op die wond of rekmerk. Dis ook raadsaam om net na die geboorte Traumeel S-druppels te neem om jou liggaam se herstel aan te help.
Indien jou borste stu of swel of inflammasie ontwikkel, kan jy rou kool blare binne in jou bra druk en gereeld omruil. Ons vind dat Lymphomyosot N en Traumeel S uiters effektief is om die inflammasie op te klaar. Drink baie water.
Psalm 127 en 128 beskryf watter absolute seën kinders is. Gaan lees dit gerus. Ek hoop hierdie help jou om jou baba regtig baie te geniet. Gaan besoek gerus ʼn homeopatiese dokter wat jy vertrou indien jy steeds met baba sukkel. Gaan aanlyn en besoek ons webtuistes waar nog raad beskikbaar is.